Cover

Mense mag dalk hierdie boek ter hand neem in die verwagting om meegesleur te word deur ’n historiese verhaal vol intrige, spanning, konflik, hartseer … Dit is alles daar – soms tussen die reëls. Daar is ook humor. Maar hierdie boek is anders.
Aan die woord is ’n man – ’n musikus – met ’n fyn ontwikkelde gees, ’n skerp waarnemingsvermoë, ’n analities-filosofiese instelling, en ’n langafstand-perspektief op ons land en ons geskiedenis hier aan die onderste punt van die Afrika-vasteland.
Alexander Kok en sy broers het in 1938 – net voor die Tweede Wêreldoorlog – saam met hul moeder na Engeland verhuis; die seuns se musiektalent en beurse van die Royal Academy for Music het hul lewens ingrypend verander. Alexander het later as tjellis lid geword van die London Philharmonia Orchestra. (Vandag woon hy as afgetrede al geruime tyd in Normandië, Frankryk.)
Een van die hooftemas van die boek is die geskiedenis van hierdie Afrikanerfamilie, wat strek van voor die Anglo-Boereoorlog tot in die laat 20ste eeu. In baie van die vertellings, en veral in die kommentaar op gebeure, hoor ons die skrywer se eie stem; maar dikwels stel hy sy moeder aan die woord, en dan hoor ons die narratief in haar stem en sien ons die gebeure deur haar oë. Ook haar oorlede moeder, sy Ouma, is dikwels ’n lewendige teenwoordigheid in die herinneringe.
Alexander se moeder woon in haar laaste jare by hom in; sy het ongeneeslike kanker. Hierdie boek kom grootliks tot stand uit hulle twee se gesprekke in daardie tyd in Oxford voor haar dood — hy wat haar versorg en by haar bed sit en gesels, vrae vra met ’n opregte begeerte om die verlede beter te verstaan, sy wat haar herinneringe met hom deel, en hulle albei se interpretasies …
Die boek egter is veel meer as blote nostalgiese onthou-en-vertel. In hierdie hele proses skyn Kok ook ’n skerp lig op die geskiedenis van die twee Boererepublieke en op Brittanje wat die Boerevolk meedoënloos wou vernietig, sodat hulle hul hande op die Republieke se skitterende rykdom van goud en diamante kon lê. Bekende/berugte name uit die geskiedenis duik een na die ander op: Rhodes, Lord Shelburne, Roberts, Kitchener van scorched earth-faam … die konsentrasiekampe (wat die moeder as klein dogtertjie oorleef het) … die vernietigende wetgewing daarna wat van die Boere ontheemdes en vreemdelinge in hul eie land gemaak het … Milner, en die verengelsing op alle fronte. Die fusillering van die Boere-krygsgevangenes as “oorlogs-rebelle” – iets wat beslis ontbreek het in ons Geskiedenis-leerplanne. Die reuse-geldmag gesetel in De Beers Consolidated Mines en die Anglo-American Gold Mining Corporation … Dis die ou bekende storie van die mag van die oorwinnaar, en die magteloosheid van die verloorder.
Maar een ding kon die Engelse nie vernietig of wegvat nie – die onblusbare gees (spirit) van die Afrikaner. In daardie onvernietigbare gees het die kiem van ons oorlewing geskuil: ons aanpasbaarheid, ons vindingrykheid, ons geloof, ons weiering om tou op te gooi. Die moeder se hele lewensverhaal word ’n versinnebeelding van hierdie onvernietigbare gees.
En – moontlik onbedoeld – lê juis hierin dalk ook ’n tydlose en duidelike boodskap vir ons eietydse Afrikaners in die tweede dekade van die 21ste eeu, hier in die nuwe Suid-Afrika.

– Anna-Mart Bonthuys