Cover_300Alexander Kok en sy broers het in 1938 saam met hul moeder na Engeland verhuis; die seuns se musiektalent en beurse van die Royal Academy of Music het hul lewens ingrypend verander.  Alexander het later as tjellis lid geword van die London Philharmonia Orchestra.

Die skrywer se moeder woon in haar laaste jare by hom en hierdie boek kom grootliks tot stand uit hulle twee se gesprekke in daardie tyd in Oxford voor haar dood — hy wat haar versorg en by haar bed sit en gesels, vrae vra met ’n opregte begeerte om die verlede beter te verstaan, sy wat haar herinneringe met hom deel, en hulle albei se interpretasies …

Die boek is egter veel meer as blote nostalgiese onthou-en-vertel.

In hierdie hele proses skyn Kok ook ’n skerp lig op die geskiedenis van die twee Boererepublieke en op Brittanje wat die Boerevolk meedoënloos wou vernietig, sodat hulle hul hande op die Republieke se skitterende rykdom van goud en diamante kon lê.

Een van die hooftemas van die boek is die geskiedenis van hierdie Afrikanerfamilie, wat strek van voor die Anglo-Boereoorlog tot in die laat 20ste eeu. Dis die ou bekende storie van die mag van die oorwinnaar, en die magteloosheid van die verloorder.Maar een ding kon die Engelse nie vernietig of wegvat nie – die onblusbare gees van die Afrikaner.

In daardie onvernietigbare gees het die kiem van ons oorlewing geskuil: ons aanpasbaarheid, ons vindingrykheid, ons geloof, ons weiering om tou op te gooi.

Die moeder se hele lewensverhaal word ’n versinnebeelding van hierdie onvernietigbare gees. En – moontlik onbedoeld – lê juis hierin dalk ook ’n tydlose en duidelike boodskap vir ons eietydse Afrikaners.

Die Kuns van Oorlewing deur Alexander Kok is nou te koop teen R230 – Kliek hier om nou te koop!